
Goeie middag aan my mede muishonde. Hoe hang hulle vandag? Muishonde vandag is oom Muishond nie baie gelukkig nie. My pop sal wragtag voor my kom staan en vra maar hoekom drink ek so baie? Hoekom MOET ek altyd suip? Dit is vir my asof vandag se mense net nie meer aan goeie vrae kan dink nie. Ek bedoel ‘n goeie vraag is iets soos, “Wat jaag die bokke aan?” of iets soos, “Hel Malema, wat maak jy?” Nie hoekom drink ek so baie nie.
Ek bedoel, daar is mos sekere goed wat ‘n man “trigger”. As jy iewers buite staan, en jy ruik jou buurman se vuurtjie, wat is die eerste ding waaraan jy dink. “So koue bier sal nou baie mooi loop”. Stry met my as julle wil, maar as jy iewers ‘n braaivleisvuurtjie ruik, dan raak ons dors. As ons vir Steve Hofmeyr iewers hoor sing, dan raak ons dors. Dit is maar een van daai dinge, ons kan dit nie help nie. Jy kan altyd met jouself stry en jouself probeer oortuig hoe swak drank is, maar dan lieg jy net vir jouself. Dink net gou vinnig by jouself nê, toe die Covid-19 pandemie begin het, en daar orals “hand sanitisers” was, wat was die hoofbestandeel in daai “sanitisers”. ALKOHOL! Dit is die bestandeel wat al die kieme en gemors doodmaak. Met ander woorde, hoe meer ons drink, hoe gesonder is ons eintlik, want die alkohol “sanitise” jou organe.
Dit is hoekom ons so baie badkamer toe moet gaan, sodat ons nie nierstene kan kry nie. Dit is hoekom ons partykeer opgooi, want jou liggaam was so vuil binne en die alkohol maak dat ons opgooi, sodat ons daai gemors kan uitkry. En baie keer as mens drink, dan voel jy mos maar so bietjie moeg, dan besluit jy maar om in die middel van die kuier te gaan slaap. Muishonde die rede hoekom dit gebeur is omdat jou liggaam en die alkohol teen mekaar baklei, en dit put ‘n man uit hoor. Maar ons word nog elke keer daarna wakker, wat beteken die alkohol het gewen. Al hoekom jy die dag daarna so bietjie sleg voel is omdat jou liggaam nog moeg is. Dis hoekom jy dalk lyfseer kan ervaar of so bietjie dors is, want na ‘n harde dag se oefening is die beste ding ‘n bietjie vloeistof.
Nee wat, al hierdie negatiewe gedagtes maak my nou sommer ook dors. Ek gaan vir my ‘n koue knak, ‘n zaan aansteek en waardeer dat ek nog die voorreg het om te kan drink en myself gesond te hou. Lekker dag vir julle en onthou, wees veilig, drink ‘n bier.
Groete
Oom Muishond
Comments